EN NOU? | |
  |
Op verskeie maniere en by verskillende geleenthede het die Here met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Aangesien ons albei na 17 jaar in die voltydse bediening uitgebrand was, geen vaste beroep beoefen het nie, deeltyds op allerlei maniere moes probeer om die spreekwoordelike "pot aan die kook te hou," drie kinders op skool gehad het, maar geen fondse in die bank nie, was daar geen manier waarop ons so iets kon aanpak nie. Die Here het ons egter gedurig uitgedaag om 'n sprong in die geloof te waag. Die aanhaling: "One drop of ink makes thousands, perhaps millions think," het ons aan die hart gegryp en ons het besef dat die geskrewe woord baie mense kon bereik en in huise kon kom waar predikante nie altyd toegang verkry nie. Die geskrewe woord is ook nie vlietend van aard soos die gesproke woord nie en kan by herhaling gelees en bepeins word. Op 7 Maart 1998 het 'n persoon, gehoorsaam aan die Stem van God, aan ons al die nodige rekenaartoerusting van ongeveer R12 000 geskenk! Kort hierna was nog twee persone gewillig om na God se Stem te luister en het een R4 000 en 'n ander een R1 000 aan ons gegee waarmee ons verdere programmatuur kon koop. Met veel vrees en bewing het ons gesin onsself tot beskikking van God gestel en gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van "Goeie Nuus / Good News" die lig gesien. Tienduisend eksemplare is van huis tot huis in Potchefstroom versprei met die bede dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, en hulle te bemoedig en te versterk sodat hulle met volharding die geestelike wedloop kan voltooi. MAAR GOD was nog nie klaar met ons nie. 'n Jaar later gee Hy opdrag dat ons ook uitbrei na Klerksdorp. En so het Hy telkens nog dorpe op ons lysie bygevoeg: 1998 - Potchefstroom 1999 - Klerksdorp 2000 - Stilfontein en Hartbeesfontein 2001 - Orkney 2004 - Parys 2005 - Ottosdal, Tosca en Ventersdorp 2006 - Molopo-omgewing 2007 - Delareyville EN NOU is "Goeie Nuus / Good News" reeds 10 jaar oud! Ons het met een dorp begin en nou versprei ons maandeliks die koerant na 11 dorpe. Daar is ook mense wat spesiaal koerante kom haal om in hulle omgewing te versprei, bv. Rustenburg, Allan-ridge, Plessis, Coligny, ens. Ons het begin met die verspreiding van 10 000 koerante per maand en nou staan die totaal op 36 400 maandeliks. Tot op datum het ons 3 472 800 koerante GRATIS versprei en die oproep kom gedurig na ons: "KOM OOK HIERHEEN, ASSEBLIEF!" "Goeie Nuus / Good News" is 'n nie-winsgewende, onafhanklike, interkerklike gesinsbediening. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerkverband, te bedien en te bemoedig en ook om die Blye Boodskap van Jesus as die mens se Verlosser aan almal wat dit nog nie gehoor of hulle eie gemaak het nie, oor te dra. "Goeie Nuus" se gratis verspreiding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoorsaam is aan die Stem van die Here. Ons glo die Here sal elkeen ryklik beloon wat daartoe meehelp dat die "Goeie Nuus / Good News" maandeliks aan ongeveer 146 000 lesers beskikbaar gestel word. Ons oplaag, druk- en verspreidingskoste verhoog egter jaarliks en dit gebeur byna maandeliks dat die advertensie-inkomste nie genoegsaam is nie. Dan moet ons telkens weer "op die water loop". MAAR GOD is getrou en het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Telkemale verras Hy ons weer en kan ons voortgaan met die uitbouing van Sy Koninkryk. Die wonderlikste van alles is egter dat God hierdie Koerant gebruik om mense se lewens radikaal te verander! Hier volg slegs enkele getuienisse van mense wie se lewens aangeraak is... Reeds met die eerste uitgawe van "Goeie Nuus" (April 1998), het God se Heilige Gees mense se lewens aangeraak. Ds. Wesley Lamprecht kon o.a. in die volgende uitgawe (Mei 1998) skryf van Mattys* se oorgawe aan die Here nadat hy die "Goeie Nuus / Good News" in sy posbus ontvang het. Hierdie jongman, 'n professionele sportman, se onverantwoordelike lewenstyl het hom finansieel geruïneer en hy was hoog in die nood. Sy gesinslewe was ook ongelukkig en hy het innerlik geweldig geworstel oor die sin van die lewe. Toe hy die artikels in die "Goeie Nuus" begin lees, het God se Gees in sy hart gewerk en het hy sy lewe aan God oorgegee en Jesus aangeneem as Salig-maker. Na hierdie gebeurtenis is hy na ds. Wesley vir verdere hulp en leiding. In Januarie 2005 het 'n gedig "Aan Sy Hand" in die "Goeie Nuus / Good News" verskyn. 'n Jong meisie het dit uitgeknip en aan die binnekant van haar Bybel geplak en daarby geskryf dat sy haar lewe opnuut aan die Here toewy. Sy is kort daarna oorlede en vir haar geliefdes was dit 'n wonder-like troos om te weet dat haar saak met God reg was en sy na Hom toe is. Gedurende Maart 2005 ontvang ons ook 'n brief van 'n dame wat na aanleiding van 'n getuienis in 'n vorige Koerant die betrokkenes gebel het en deur hulle skakeling met mekaar en gebede vir mekaar is haar gesin en veral haar seun oor wie sy baie bekommerd was, se hele lewe verander. Ons het verneem van meer as een bedelaar wat die Koerant in die hande gekry het (een man het net 'n gedeelte van die koerant waar-op die nommer van 'n Huis vir Haweloses was, langs die Mooirivier gekry), en hulle het daar uitgekom en ook die Here gevind as Saligmaker. Een is later deur 'n motor raakgery en het gesterf. Ons het 'n brief uit Australië ontvang om dankie te sê aan "Goeie Nuus" se lesers wat op 'n vorige brief van die skryfster gereageer het en geestelike leesstof en musiek aan haar gestuur het vir die biblioteek wat hulle Afrikaan-se gemeente aldaar begin het. 'n Leerder van Klerksdorp het in Mei 2006 aan ons geskryf en gesê dat sy van Gr. 10 - 12 op die VCSV-Bestuur gedien het en dat sy talle van die artikels en getuienisse in "Goeie Nuus" gebruik het om God se lig en almag te verkondig. Talle ander kinders asook selfs onderwysers het gemeld dat hulle van die leesstof in ons Koerant gebruik wanneer hulle openings-geleenthede moet waarneem. 'n Dame, Azarel, wie se gediggies al 'n paar keer in die "Goeie Nuus" verskyn het, het geskryf dat baie mense haar na die lees daarvan geskakel het en dat sy hulle kon help met hul probleme. Ons het verneem van mense wat wou selfmoord pleeg en wat deur artikels en getuienisse verhoed is om tot die daad oor te gaan. So was daar ook 'n hooggeplaaste in 'n staatsdepartement wat van plan was om sy gesin uit te wis en dan homself. Sy oog het op 'n nommer in die Koerant geval en hy het daardie persoon ('n voor-bidder) geskakel. Die man kon mooi met hom praat en dit het baie dae van volharding gekos, maar die betrokke persoon het die Here aangeneem en 'n verskriklike tragedie is afgewend. 'n Ander geval is dié van 'n ouerige man wat só diep deur 'n sekere artikel getref is dat hy na sy getroude kinders gegaan het en hulle om vergifnis gaan vra het dat hy nie toe hulle jonk was die nodige aandag aan hulle gegee het nie. Wonderlike versoening het plaasgevind en almal was vol vreugde. Ons kry voortdurend oproepe en korrespondensie van persone wat gehelp, vertroos, versterk en bemoedig word deur die lees van die "Goeie Nuus". Die ruimte ontbreek egter om van almal te vertel, maar ons weet dat die Here hierdie Koerant as instrument gebruik om talle mense se lewens aan te raak. Dit verbly ons dat ons instrumenteel kan wees om mense na God te rig en Hom voor te hou as Verlosser, Geneesheer, Vriend, Raadsman, Leidsman en Vredevors. EN NOU??? NA 10 JAAR??? Die tyd, die arbeiders, en hulpbronne is min en daar is nog soveel mense wat gehelp moet word! Soos die Macedoniese roepstem, is daar verskeie versoeke vir die verspreiding van die "Goeie Nuus / Good News" na talle omliggende dorpe. Praat die Here nie dalk NOU, op hierdie oomblik, met u om deel te word van hierdie Bediening en om op 'n praktiese manier God se Koninkryk te bevorder en mense se lewens te verryk nie? Indien wel, sal dit wonderlik wees as u daagliks in gebed vir ons intree, en ook bereid sal wees om maandeliks 'n geringe bedrag t.o.v. verdere uitbreiding te bewil-lig. Vul dan asb. onderstaande debietordervorm in en pos aan vermelde adres. BAIE DANKIE DAT U GEHOOR-SAAM IS AAN GOD SE STEM. ONS WEET DAT HY U SAL SEËN VIR U BEREIDHEID OM DIE EVANGELIE VERDER TE STUUR SODAT MEER EN MEER SIELE BEREIK KAN WORD! - Redaksie |